Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 33

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 33:1 Verder het die woord van die HERE vir die tweede keer tot Jeremia gekom, terwyl hy nog opgesluit was in die voorhof van bewaking, en gesê:
JER 33:2 So spreek die HERE wat dit doen, die HERE wat dit formeer om dit te bevestig, HERE is sy Naam:
JER 33:3 Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.
JER 33:4 Want so sê die HERE, die God van Israel, met betrekking tot die huise van hierdie stad en die huise van die konings van Juda wat omgegooi is as verdediging teen die walle en die swaard--
JER 33:5 hulle kom wel om te veg teen die Chaldeërs, maar dit is om dié huise te vul met die lyke van mense wat Ek verslaan het in my toorn en in my grimmigheid en oor al die boosheid van diegene om wie Ek my aangesig vir hierdie stad verberg het.
JER 33:6 Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar 'n oorvloed van duursame vrede.
JER 33:7 En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore.
JER 33:8 En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het.
JER 33:9 En die stad sal vir My wees 'n vreugdevolle roem, 'n lof en 'n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys.
JER 33:10 So spreek die HERE: In hierdie plek waarvan julle sê: Dit is woes, sonder mens en sonder dier--in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mens en sonder inwoner en sonder dier, sal weer gehoor word
JER 33:11 die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die stem van die wat sê: Loof die HERE van die leërskare, want die HERE is goed, want sy goedertierenheid is in ewigheid! --van die wat 'n lofoffer bring in die huis van die HERE; want Ek sal die lot van die land verander soos tevore, sê die HERE.
JER 33:12 So spreek die HERE van die leërskare: In hierdie plek wat woes is, sonder mens of dier, en in al die stede daarvan sal weer 'n weiveld vir die herders wees wat troppe kleinvee laat lê en rus.
JER 33:13 In die stede van die Gebergte, in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland en in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda sal die troppe kleinvee weer by die teller verbygaan, sê die HERE.
JER 33:14 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda.
JER 33:15 In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid 'n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land.
JER 33:16 In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.
JER 33:17 Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie 'n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie;
JER 33:18 en daar sal vir die Levitiese priesters nooit voor my aangesig 'n man ontbreek wat altyddeur brandoffers bring en spysoffers aan die brand steek en slagoffers berei nie.
JER 33:19 En die woord van die HERE het tot Jeremia gekom en gesê:
JER 33:20 So spreek die HERE: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie,
JER 33:21 dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars.
JER 33:22 Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.
JER 33:23 Verder het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:
JER 33:24 Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die HERE uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie.
JER 33:25 So sê die HERE: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie,
JER 33:26 dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie; want Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com