Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 50

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 50:1 Die woord wat die HERE deur die profeet Jeremia gespreek het oor Babel, oor die land van die Chaldeërs.
JER 50:2 Verkondig onder die nasies en laat hoor, en steek 'n banier op, laat hoor; verberg dit nie; sê: Babel is ingeneem, Bel staan beskaamd, Meródag is verskrik; sy afgode staan beskaamd, sy drekgode is verskrik.
JER 50:3 Want 'n volk trek teen hom op uit die Noorde; dit sal sy land 'n woesteny maak, sodat daar geen inwoner in is nie; mense sowel as diere het gevlug, weggetrek.
JER 50:4 In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek.
JER 50:5 Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in 'n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.
JER 50:6 'n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.
JER 50:7 Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die HERE, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die HERE.
JER 50:8 Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!
JER 50:9 Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek 'n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel--daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van 'n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie.
JER 50:10 En Chaldéa sal 'n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die HERE.
JER 50:11 Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos 'n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste--
JER 50:12 julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, 'n woestyn, 'n dor land en 'n wildernis.
JER 50:13 Weens die toorn van die HERE sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al 'n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae.
JER 50:14 Stel julle op teen Babel rondom, julle almal wat die boog span! Beskiet hom, spaar die pyle nie! Want hy het teen die HERE gesondig.
JER 50:15 Juig oor hom rondom--hy het hom oorgegee, sy pilare het geval, sy mure is afgebreek; want dit is die wraak van die HERE; wreek julle op hom, doen aan hom soos hy gedoen het!
JER 50:16 Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug!
JER 50:17 Israel is 'n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.
JER 50:18 Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek doen besoeking oor die koning van Babel en oor sy land, soos Ek besoeking gedoen het oor die koning van Assur.
JER 50:19 En Ek sal Israel na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Basan; en sy siel sal op die gebergte van Efraim en in Gílead versadig word.
JER 50:20 In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.
JER 50:21 Teen die land Meratáim, trek daarteen op en teen die inwoners van Pekod! Verwoes en tref met die banvloek agter hulle, spreek die HERE, en doen net soos Ek jou beveel het.
JER 50:22 Daar is oorlogsgeskreeu in die land en 'n groot verbreking.
JER 50:23 Hoe is die hamer van die hele aarde afgekap en verbreek! Hoe het Babel geword 'n voorwerp van verbasing onder die nasies!
JER 50:24 Ek het vir jou 'n strik gespan, en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die HERE in die stryd begeef het.
JER 50:25 Die HERE het sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring; want 'n werk is dit wat die Here HERE van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs.
JER 50:26 Kom aan teen hom van alle kante, maak oop sy voorraadskure, stapel hom op soos koringmiede, en tref hom met die banvloek! Hy moet geen oorblyfsel hê nie.
JER 50:27 Slaan dood al sy jong stiere, laat hulle afgaan om geslag te word. Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle besoeking.
JER 50:28 Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die HERE onse God, die wraak van sy tempel.
JER 50:29 Roep teen Babel skutters op, almal wat die boog span; slaan laer op rondom teen hom, laat daar geen ontkoming wees nie! Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die HERE, teen die Heilige van Israel.
JER 50:30 Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine en al sy krygsmanne in dié dag omkom, spreek die HERE.
JER 50:31 Kyk, Ek het dit teen jou, o vermetele, spreek die Here HERE van die leërskare; want jou dag het gekom, die tyd dat Ek oor jou besoeking sal doen.
JER 50:32 Dan sal die vermetele struikel en val, en daar sal niemand wees wat hom optel nie; en Ek sal 'n vuur aansteek in sy stede, en dit sal sy hele omgewing verteer.
JER 50:33 So sê die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek.
JER 50:34 Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam; Hy sal hulle saak sekerlik verdedig, om die aarde rus te gee en die inwoners van Babel in onrus te bring.
JER 50:35 Die swaard oor die Chaldeërs, spreek die HERE, en oor die inwoners van Babel en oor sy vorste en oor sy wyse manne!
JER 50:36 Die swaard oor die grootpraters, dat hulle dwaas kan word! Die swaard oor sy helde, dat hulle verskrik kan word!
JER 50:37 Die swaard oor sy perde en sy strydwaens en oor die hele gemengde bevolking wat daar binne-in is, dat hulle vroue kan word! Die swaard oor sy skatte, dat hulle geplunder kan word!
JER 50:38 Droogte oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! Want dit is 'n land van gesnede beelde, en deur die skrikgestaltes is hulle waansinnig.
JER 50:39 Daarom sal daar boskatte saam met wildehonde bly; ook sal daar volstruise in bly; 'n mens sal daar in ewigheid nie meer bly nie, en dit sal nie bewoon word van geslag tot geslag nie.
JER 50:40 Soos God Sodom en Gomorra met hulle bure omgekeer het, spreek die HERE, sal daar niemand woon nie, en geen mensekind daar vertoef nie.
JER 50:41 Kyk, daar kom 'n volk uit die Noorde, en 'n groot nasie en magtige konings word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
JER 50:42 Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle geluid bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos 'n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Babel!
JER 50:43 Die koning van Babel het die gerug van hulle gehoor, en sy hande het slap geword; benoudheid het hom aangegryp, smart soos van een wat baar.
JER 50:44 Kyk, soos 'n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in 'n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag, en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog 'n herder wat voor my aangesig kan standhou?
JER 50:45 Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Babel geneem en sy planne wat Hy teen die land van die Chaldeërs beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.
JER 50:46 Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde, en geskreeu word onder die nasies gehoor.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com