Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 44

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 44:1 Die woord wat tot Jeremia gekom het aan al die Jode wat in Egipteland woonagtig was, wat in Migdol en in Tagpánhes en in Nof en in die land Patros gewoon het:
JER 44:2 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Julle het self gesien al die onheil wat Ek oor Jerusalem en oor al die stede van Juda gebring het; en kyk, hulle is vandag 'n puinhoop, sonder dat daar iemand in woon;
JER 44:3 weens hulle boosheid wat hulle bedryf het, om My te terg deur heen te gaan om rook te laat opstyg en ander gode te dien wat hulle nie geken het, hulle, julle en julle vaders nie.
JER 44:4 En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Moet tog nie hierdie gruwelike saak wat Ek haat, doen nie.
JER 44:5 Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee om hulle van hul boosheid te bekeer nie, om vir ander gode geen rook te laat opgaan nie.
JER 44:6 Daarom is my grimmigheid en my toorn uitgestort en het dit gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, sodat hulle 'n puinhoop, 'n wildernis geword het soos dit vandag is.
JER 44:7 So sê dan nou die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: Waarom berokken julle julself 'n groot onheil om onder julle man en vrou, kind en suigling uit Juda uit te roei, om vir julle niemand te laat oorbly nie,
JER 44:8 deurdat julle My terg met die werke van julle hande, om vir ander gode rook te laat opgaan in Egipteland waar julle gekom het om as vreemdelinge te vertoef, sodat julle julself uitroei en 'n voorwerp van vervloeking en van smaad onder al die nasies van die aarde word?
JER 44:9 Het julle vergeet die booshede van julle vaders en die booshede van die konings van Juda en die booshede van hulle vroue en julle eie booshede en die booshede van julle vroue wat hulle bedryf het in die land Juda en op die strate van Jerusalem?
JER 44:10 Hulle is tot vandag toe nie verbrysel van hart nie, en hulle was nie bevrees en het nie gewandel in my wet en in my insettinge wat Ek julle en jul vaders voorgehou het nie.
JER 44:11 Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele Juda uit te roei.
JER 44:12 En Ek sal die oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland omkom. Deur die swaard sal hulle val, deur die hongersnood sal hulle verteer word, groot sowel as klein; deur die swaard en die hongersnood sal hulle sterwe; en hulle sal 'n voorwerp van verwensing, van verbasing en van vervloeking en smaad word.
JER 44:13 En Ek sal besoeking doen oor die wat in Egipteland woon, soos Ek besoeking gedoen het oor Jerusalem deur die swaard, die hongersnood en die pes;
JER 44:14 sodat daar geeneen sal wees wat ontvlug of vryraak vir die oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef nie, dat hulle kan teruggaan in die land Juda waar hulle siel na verlang om terug te gaan, om daar te woon; want hulle sal nie teruggaan behalwe enkele vlugtelinge nie.
JER 44:15 En al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode rook laat opgaan, en al die vroue wat daar staan, 'n groot menigte, en die hele volk wat in Egipteland, in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord en gesê:
JER 44:16 Aangaande die woord wat u ons in die Naam van die HERE verkondig het--ons sal na u nie luister nie.
JER 44:17 Maar ons sal stellig alles doen wat uit ons mond uitgegaan het--om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons vaders, ons konings en ons vorste, in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem; toe is ons met brood versadig en was gelukkig, en ons het geen onheil gesien nie.
JER 44:18 Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom.
JER 44:19 En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet--is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?
JER 44:20 Toe het Jeremia gespreek met die hele volk, met die manne en die vroue en die hele volk wat hom antwoord gegee het, en gesê:
JER 44:21 Aan die offerrook wat julle laat opgaan het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle vaders, julle konings en julle vorste en die volk van die land--het die HERE daaraan nie gedink nie en het dit nie in sy hart opgekom nie? --
JER 44:22 sodat die HERE dit nie langer kon verdra weens die boosheid van julle handelinge, weens die gruwels wat julle bedryf het nie. So het julle land dan 'n puinhoop geword en 'n voorwerp van verbasing en van vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is;
JER 44:23 omdat julle rook laat opgaan het en teen die HERE gesondig en nie na die stem van die HERE geluister het nie en in sy wet en in sy insettinge en in sy getuienisse nie gewandel het nie; daarom het hierdie onheil oor julle gekom soos dit vandag is.
JER 44:24 Verder het Jeremia aan die hele volk en al die vroue gesê: Hoor die woord van die HERE, o hele Juda wat in Egipteland is!
JER 44:25 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel, en sê: Julle en julle vroue, julle het dan met julle mond gespreek en dit met julle hande in vervulling laat gaan, terwyl julle sê: Ons sal ons geloftes wat ons gedoen het, stellig hou om rook te laat opgaan vir die hemelkoningin en vir haar drankoffers uit te giet--bevestig dan nou maar julle geloftes, ja, hou nou maar julle geloftes!
JER 44:26 Daarom, hoor die woord van die HERE, o hele Juda wat in Egipteland woon! Kyk, Ek sweer by my grote Naam, sê die HERE: Nooit sal my Naam meer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda in die hele Egipteland nie, met die woorde: So waar as die Here HERE leef!
JER 44:27 Kyk, Ek is wakker oor hulle ten kwade en nie ten goede nie; en al die manne van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en die hongersnood omkom, totdat dit met hulle gedaan is.
JER 44:28 Maar die wat van die swaard vryraak, sal uit Egipteland terugkom in die land Juda, min in getal; so sal dan die hele oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef, weet wie se woord sal bestaan, myne of hulle s'n.
JER 44:29 En dit sal vir julle die teken wees, spreek die HERE, dat Ek oor julle besoeking sal doen in hierdie plek, sodat julle kan weet dat my woorde sekerlik teen julle sal bestaan ten kwade--
JER 44:30 so sê die HERE: Kyk, Ek gee Farao Hofra, die koning van Egipte, in die hand van sy vyande en in die hand van die wat sy lewe soek, soos Ek Sedekía, die koning van Juda, gegee het in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, sy vyand, wat ook sy lewe gesoek het.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com