Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 26

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 26:1 In die begin van die regering van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, het hierdie woord van die HERE gekom:
JER 26:2 So sê die HERE: Gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE, en spreek tot al die stede van Juda wat kom om te aanbid in die huis van die HERE, al die woorde wat Ek jou beveel het om aan hulle te sê; laat geen woord weg nie.
JER 26:3 Miskien sal hulle luister en hulle bekeer elkeen van sy verkeerde weg; dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen weens die boosheid van hulle handelinge.
JER 26:4 Sê dan vir hulle: So spreek die HERE: As julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het,
JER 26:5 om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het,
JER 26:6 dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak 'n vervloeking vir al die nasies van die aarde.
JER 26:7 En die priesters en die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor spreek in die huis van die HERE.
JER 26:8 En toe Jeremia klaar gespreek het alles wat die HERE beveel het om aan die hele volk te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: Jy moet sekerlik sterwe!
JER 26:9 Waarom het jy in die Naam van die HERE geprofeteer en gesê: Hierdie huis sal soos Silo word, en hierdie stad sal verwoes word, sonder inwoner? En die hele volk het bymekaargekom teen Jeremia in die huis van die HERE.
JER 26:10 Toe die vorste van Juda hierdie woorde hoor, het hulle uit die huis van die koning opgegaan na die huis van die HERE; en hulle het gaan sit by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die HERE.
JER 26:11 En die priesters en die profete het met die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het.
JER 26:12 Maar Jeremia het al die vorste en die hele volk toegespreek en gesê: Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het.
JER 26:13 Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het.
JER 26:14 Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë.
JER 26:15 Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.
JER 26:16 Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man verdien nie die dood nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die HERE onse God.
JER 26:17 Ook het daar manne opgestaan uit die oudstes van die land, en hulle het die hele vergadering van die volk toegespreek en gesê:
JER 26:18 Miga, die Morastiet, het as profeet opgetree in die dae van Hiskía, koning van Juda, en met die hele volk van Juda gespreek en gesê: So spreek die HERE van die leërskare: Sion sal soos 'n land omgeploeg word, en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante.
JER 26:19 Het Hiskía, koning van Juda, en die hele Juda hom ooit gedood? Het hy nie die HERE gevrees en die HERE om genade gesmeek, sodat dit die HERE berou het oor die onheil wat Hy teen hulle gespreek het nie? En ons is besig om ons siele 'n groot onheil te berokken!
JER 26:20 En daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uría, die seun van Semája, van Kirjat-Jeárim; en hy het geprofeteer teen hierdie stad en teen hierdie land ooreenkomstig al die woorde van Jeremia.
JER 26:21 Maar toe koning Jójakim en al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uría het dit gehoor en bevrees geword en gevlug en in Egipte gekom.
JER 26:22 Toe stuur koning Jójakim manne na Egipte, Élnatan, die seun van Akbor, en manne saam met hom, na Egipte toe.
JER 26:23 Dié het Uría uit Egipte weggevoer en hom by die koning Jójakim gebring; en hy het hom met die swaard verslaan en sy lyk op die grafte van die gewone mense gegooi.
JER 26:24 Maar die hand van Ahíkam, die seun van Safan, het Jeremia beskerm, sodat hy nie oorgegee is in die hand van die volk om hom dood te maak nie.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com