Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Jeremiah 25

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42] [43] [44] [45] [46] [47] [48] [49] [50] [51] [52]

JER 25:1 Die woord wat tot Jeremia gekom het aangaande die hele volk van Juda, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda--dit was die eerste jaar van Nebukadrésar, die koning van Babel--
JER 25:2 waarmee die profeet Jeremia die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem toegespreek en gesê het:
JER 25:3 Vanaf die dertiende jaar van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, tot op hierdie dag--nou drie en twintig jaar lank--het die woord van die HERE tot my gekom; en ek het julle toegespreek, vroeg en laat, maar julle het nie geluister nie.
JER 25:4 Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat--maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie--
JER 25:5 met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu;
JER 25:6 en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie.
JER 25:7 Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE--om My te terg met die werk van julle hande, julle tot skade.
JER 25:8 Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie,
JER 25:9 laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak 'n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.
JER 25:10 En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.
JER 25:11 En hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.
JER 25:12 En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.
JER 25:13 En Ek sal oor dié land bring al my woorde wat Ek daaroor gespreek het--alles wat geskrywe is in hierdie boek, wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies.
JER 25:14 Want hulle sal ook diensbaar gemaak word deur magtige nasies en groot konings, en Ek sal hulle vergelde ooreenkomstig hul dade en die werk van hul hande.
JER 25:15 Want so het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur,
JER 25:16 dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.
JER 25:17 En ek het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het;
JER 25:18 naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak 'n puinhoop, 'n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is;
JER 25:19 Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk;
JER 25:20 en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Askelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod;
JER 25:21 Edom en Moab en die kinders van Ammon;
JER 25:22 en al die konings van Tirus en al die konings van Sidon en al die konings van die kusland wat oorkant die see is;
JER 25:23 Dedan en Tema en Bus en almal wat die rand van hulle hare wegskeer;
JER 25:24 en al die konings van Arabië en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;
JER 25:25 en al die konings van Simri en al die konings van Elam en al die konings van Médië;
JER 25:26 en al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink.
JER 25:27 En jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Drink en word dronk en spuug en val neer en staan nie weer op nie weens die swaard wat Ek onder julle stuur.
JER 25:28 En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Drink sál julle!
JER 25:29 Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile--en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die HERE van die leërskare.
JER 25:30 Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die HERE sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy 'n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.
JER 25:31 Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die HERE het 'n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose--aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die HERE.
JER 25:32 So sê die HERE van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en 'n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
JER 25:33 En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.
JER 25:34 Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos 'n kosbare voorwerp.
JER 25:35 Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie.
JER 25:36 Hoor! Geskreeu van die herders en gehuil van die maghebbers van die kudde, omdat die HERE hulle kudde verwoes.
JER 25:37 En die weivelde van vrede word verwoes weens die toorngloed van die HERE.
JER 25:38 Hy het soos 'n jong leeu sy lêplek verlaat; want hulle land het 'n woesteny geword weens die gewelddadige swaard, ja, weens sy toorngloed.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com