Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Job 22

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

JOB 22:1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
JOB 22:2 Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens.
JOB 22:3 Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?
JOB 22:4 Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?
JOB 22:5 Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?
JOB 22:6 Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.
JOB 22:7 Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.
JOB 22:8 Maar aan die man van geweld--aan hom behoort die land; en die aansienlike--hy moet daarin woon!
JOB 22:9 Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
JOB 22:10 Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.
JOB 22:11 Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
JOB 22:12 Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.
JOB 22:13 Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?
JOB 22:14 Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.
JOB 22:15 Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,
JOB 22:16 wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom,
JOB 22:17 wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?
JOB 22:18 En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. (Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
JOB 22:19 Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:
JOB 22:20 Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.
JOB 22:21 Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.
JOB 22:22 Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.
JOB 22:23 As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.
JOB 22:24 En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.
JOB 22:25 Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
JOB 22:26 Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.
JOB 22:27 Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.
JOB 22:28 Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig.
JOB 22:29 As dié afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.
JOB 22:30 Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com