Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Job 36

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

JOB 36:1 En Elíhu het voortgegaan en gesê:
JOB 36:2 Wag 'n bietjie op my, en ek sal u inlig; want daar is nog genoeg te sê tot eer van God.
JOB 36:3 Ek sal my kennis van ver af ophaal en aan my Skepper reg verskaf.
JOB 36:4 Want waarlik, my woorde is geen leuens nie; een wat volkome is in kennis, is by u.
JOB 36:5 Kyk, God is geweldig, nogtans ag Hy niks gering nie--geweldig deur krag van verstand.
JOB 36:6 Hy laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg.
JOB 36:7 Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, maar by konings op die troon laat Hy hulle sit vir altyd, sodat hulle verhoog is.
JOB 36:8 Maar as hulle in kettings geklink is, gevang word in bande van ellende,
JOB 36:9 dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hul gedrag hoogmoedig was;
JOB 36:10 dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid.
JOB 36:11 As hulle luister en Hom dien, dan bring hulle hul dae deur in voorspoed en hul jare in aangenaamheid.
JOB 36:12 Maar as hulle nie luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas die asem uit sonder kennis.
JOB 36:13 Maar die goddelose van hart koester nyd; hulle roep nie om hulp as Hy hulle bind nie.
JOB 36:14 So sterwe dan hulle siel in die jeug en hulle lewe soos dié van skandseuns.
JOB 36:15 Hy red die ellendige deur sy ellende en open hulle oor deur verdrukking.
JOB 36:16 So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na 'n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys.
JOB 36:17 Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp.
JOB 36:18 Want pas op dat woede u nie verlok by die bestraffing en die grootheid van die losprys u nie verlei nie.
JOB 36:19 Sal Hy u geroep om hulp voorbring waar daar geen nood is nie, en alle moontlike kragsinspanning van u?
JOB 36:20 Smag nie na die oordeelsnag wat volke wegneem uit hulle plek nie.
JOB 36:21 Neem u in ag, wend u nie tot ongeregtigheid nie; want dit verkies u liewer as ellende.
JOB 36:22 Kyk, God handel verhewe in sy krag; wie is 'n leermeester soos Hy?
JOB 36:23 Wie het Hom sy weg voorgeskrywe? En wie het gesê: U het onreg gedoen?
JOB 36:24 Dink daaraan dat u sy werk moet verheerlik waar die mense van sing.
JOB 36:25 Al die mense sien dit met welgevalle aan, die sterfling aanskou dit van ver.
JOB 36:26 Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.
JOB 36:27 Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën
JOB 36:28 wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense.
JOB 36:29 Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut?
JOB 36:30 Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy.
JOB 36:31 Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed.
JOB 36:32 Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller.
JOB 36:33 Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com