Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Job 6

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

JOB 6:1 Maar Job het geantwoord en gesê:
JOB 6:2 Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in 'n skaal opgehef!
JOB 6:3 Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam.
JOB 6:4 Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op.
JOB 6:5 Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk 'n bees by sy voer?
JOB 6:6 Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van 'n eier?
JOB 6:7 My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys.
JOB 6:8 Ag, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee!
JOB 6:9 En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!
JOB 6:10 Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie.
JOB 6:11 Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees?
JOB 6:12 Is my krag 'n krag van klip of my vlees van koper?
JOB 6:13 Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie?
JOB 6:14 Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.
JOB 6:15 My broers het troueloos gehandel soos 'n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop,
JOB 6:16 wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg--
JOB 6:17 in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.
JOB 6:18 Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan.
JOB 6:19 Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag.
JOB 6:20 Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld.
JOB 6:21 So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees.
JOB 6:22 Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my 'n omkoopgeskenk uit julle vermoë?
JOB 6:23 Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne?
JOB 6:24 Onderrig my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het.
JOB 6:25 Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig 'n bestraffing uit, van julle afkomstig?
JOB 6:26 Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van 'n wanhopige is vir die wind!
JOB 6:27 Ja, julle sou 'n wees uitloot en julle vriend verhandel.
JOB 6:28 Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie.
JOB 6:29 Keer tog terug--laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug--nóg is my geregtigheid daar.
JOB 6:30 Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie?

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com