Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Job 3

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

JOB 3:1 Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek.
JOB 3:2 En Job het begin en gesê:
JOB 3:3 Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, en die nag wat gesê het: 'n Seun is ontvang.
JOB 3:4 Mag dié dag duisternis wees; mag God nie na hom vra daarbo nie en geen ligglans oor hom skyn nie.
JOB 3:5 Mag duisternis en doodskaduwee hom opeis, 'n wolkgevaarte oor hom gaan lê, dagverduisteringe hom verskrik.
JOB 3:6 Daardie nag--mag donkerheid hom wegruk, mag hy nie bly wees onder die dae van die jaar, in die getal van die maande nie kom nie.
JOB 3:7 Ja, mag dié nag onvrugbaar wees, geen gejubel tot hom deurdring nie.
JOB 3:8 Mag die dagvervloekers hom verwens, hulle wat die kuns verstaan om die Leviátan op te hits.
JOB 3:9 Mag die sterre van sy môreskemering verduister word; mag hy wag op lig, maar tevergeefs, en die ooglede van die dageraad nie sien nie.
JOB 3:10 Omdat hy vir my nie toegesluit het die deure van die moederskoot nie en moeite vir my oë nie verberg het nie.
JOB 3:11 Waarom het ek nie gesterf by die geboorte, nie uitgegaan uit die moederskoot en die asem uitgeblaas nie?
JOB 3:12 Waarom het knieë my teëgekom, en waarom borste, dat ek moes drink?
JOB 3:13 Want dan sou ek daar gelê en stil gewees het; ek sou geslaap, ek sou dan rus gehad het,
JOB 3:14 saam met konings en raadsmanne van die aarde, wat puinhope weer opgebou het vir hulleself;
JOB 3:15 of saam met vorste wat goud besit, wat hulle huise met silwer gevul het.
JOB 3:16 Of ek sou, soos 'n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie.
JOB 3:17 Daar hou die goddelose op met woel, en daar rus hulle wie se kragte uitgeput is.
JOB 3:18 Die gevangenes is almal saam gerus; hulle hoor die stem van die drywer nie.
JOB 3:19 Klein en groot is daar gelyk, en die slaaf is vry van sy heer.
JOB 3:20 Waarom gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel;
JOB 3:21 wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte;
JOB 3:22 wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind?
JOB 3:23 Waarom gee Hy lig aan 'n man wie se weg verborge is, 'n man wat deur God aan alle kante ingesluit is?
JOB 3:24 Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water.
JOB 3:25 As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.
JOB 3:26 Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com