Compiled By Jeff Henderson from BibleDatabase Modules

Main Index: Afrikaans

 

Job 31

[1] [2] [3] [4] [5] [6] [7] [8] [9] [10] [11] [12] [13] [14] [15] [16] [17] [18] [19] [20] [21] [22] [23] [24] [25] [26] [27] [28] [29] [30] [31] [32] [33] [34] [35] [36] [37] [38] [39] [40] [41] [42]

JOB 31:1 Ek het 'n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op 'n jonkvrou?
JOB 31:2 Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes--
JOB 31:3 is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie?
JOB 31:4 Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?
JOB 31:5 As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog:
JOB 31:6 laat Hy my dan weeg op 'n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!
JOB 31:7 As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande 'n vlek gekleef het--
JOB 31:8 laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word.
JOB 31:9 As my hart verlok was oor 'n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste--
JOB 31:10 laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig.
JOB 31:11 Want dit is 'n skandelike daad, en dit is 'n strafbare misdaad.
JOB 31:12 Ja, dit is 'n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel.
JOB 31:13 As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle 'n geskil met my gehad het--
JOB 31:14 wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen?
JOB 31:15 Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie?
JOB 31:16 As ek die armes 'n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het
JOB 31:17 en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet;
JOB 31:18 (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by 'n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!)
JOB 31:19 as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie;
JOB 31:20 as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie;
JOB 31:21 as ek my hand teen 'n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het--
JOB 31:22 laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word.
JOB 31:23 Want die ondergang wat God bewerk, was 'n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.
JOB 31:24 As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue!
JOB 31:25 As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het;
JOB 31:26 as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan,
JOB 31:27 en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle 'n kus toegewerp het--
JOB 31:28 ook dit sou 'n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.
JOB 31:29 As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het;
JOB 31:30 (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur 'n vloek sy lewe te vorder nie!)
JOB 31:31 as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie?
JOB 31:32 (die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!)
JOB 31:33 as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek,
JOB 31:34 omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie!
JOB 31:35 Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het!
JOB 31:36 Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as 'n krans.
JOB 31:37 Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as 'n vors sou ek na Hom toe aankom.
JOB 31:38 As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween;
JOB 31:39 as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het--
JOB 31:40 laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job.

 

Created with BibleDatabase HTML Compiler

© 2002 Worship Loud, Inc.
www.worshiploud.com